Pierre Moolman was in 2014 ‘n meganiese/elektriese ingenieur, hy het daardie jaar op die ouderdom van 46 jaar ‘n massiewe beroerte gehad wat hom gelaat het met totale Afasie.
Hy was vasgevang in homself, ek het nooit geweet of hy my verstaan nie, nooit geweet of hy weer sal kan kommunikeer nie.
Ek het hom vir ‘n assessering na Agneta toe geneem na hy 4 maande in rehabilitasie was.
Die assesserings verslag was skokkend vir my aangesien sy verslag baie swak was. Al manier wat hy kon kommunikeer was om sy linkerhand op sy regter skouer te klap, as jy sy naam vir hom neer geskryf het kon hy dit afskryf, maar nie op sy eie nie.
Agneta het dadelik begin terapie doen met Pierre, ons het begin met 2 keer ‘n week.
Hy kon nie sy gesin se name sê nie, hy kon nie buite konteks kommunikeer nie. Hy kon soms ook nie verstaan as jy met hom gepraat het nie.
Ons het Agneta vir so om en by 2-3 jaar gesien. Sy het ongelooflike baie goeie kontak met Pierre gemaak en kon met soveel gemak met hom praat en hy met haar. Ek was verstom om te hoor hoe hy met haar praat, aangesien ek en hy nie met mekaar kon praat nie. Dit was die mees positiefste gevoel om by haar weg te gaan na ‘n spraak sessie. Jy het elke keer daar weg gegaan met nuwe hoop en nuwe vordering.
Pierre het geleer om dinge aan mens te verduidelik sonder woorde, hy het weer self standig geraak.