skip to Main Content

Gehoorverlies sluip soms op jou af soos ‘n dief in die nag. Erens in jou agterkop onthou jy tog die oorverdowende klank van bomme in jou grensjare en die klank van ‘n .375 geweer as jy jou skiet oefeninge doen en die effek wat dit op jou gehoor gehad het en nou nog het. Die grappies van selektiewe gehoorverlies was gepas en selfs snaaks by tye, maar nooit het die impak van die werklikheid ernstig tot my deur gedring nie. Ek onthou dat ek selfs soms vir my liewe oorlede moeder, Desire Chatterton , wat ook ‘n dankbare kliënt van Agneta was, gespot het dat sy haar ore moet opdraai !
Ek het besef dat ek sekere voëlklanke nie kan hoor as ek gidswerk gedoen het in die Kruger Nasionale Park nie en het ook die televisiestel al hoe harder begin stel. Verskeie kere moes ek mense vra om hulself te herhaal en dan was daar kere wat ek skoon van die punt af geantwoord het, as ek afleidings gemaak het van wat gesê of gevra was, omdat ek nie wou erken dat ek nie die eerste keer gehoor het nie. Gelukkig het ek ‘n goeie sin vir humor en was dit meermalle eerder snaaks as ‘n verleentheid. Ek het egter uiteindelik die frustrasie van ander raak gesien wat hulself keer op keer moes herhaal en het die onvermydelike begin aanvaar. Aanvanklik was ek teensinnig, maar met genoeg aansporing van die gesin, het ek my tot Agneta gewend.
Met deernis en begrip het Agneta die gehoortoets afgehandel, die verskillende toestelle verduidelik en my eenhede ingestel. Die gesinslede het nie eers dadelik agter gekom dat ek alreeds die gehoorstukke dra nie! Dit is glad nie sigbaar nie en die tegnologie is net ongelooflik. My selfoon kan my ore beheer !! Skielik kan ek die foon antwoord, selfs terwyl ek motor bestuur, omdat die Bluetooth fasiliteit my instaat stel om duidelik te hoor, selfs bo die geraas van die motor. Van my selfoon af kan ek die toestel se batterye kontrolleer en vele ander funksie nagaan.
Vir die eerste keer in baie jare word ek wakker en kan ek die getjirp van die voëls vroeg oggend hoor terwyl ek my eerste koffie geniet en saans lank na die geluide van die krieke, insekte en paddas in die tuin luister voor ek gaan slaap en besef ek nou eers vir die eerste keer, waarop ek al die jare uitgemis het. Hoeveel klein dingetjies daar is wat ek net nooit gehoor het nie en omdat dit nie lewensbelangrik was nie, het ek daarvan vergeet, maar die Godgegewe vreugde wat gehoor en die gehoor apparaat bring, maak my bewoë en ek is nie skaam om te erken dat die trane van dankbaarheid my soms oorweldig nie.
Ek wil graag ander wat gehoorverlies probleme ervaar, aanraai om Agneta te besoek. Die voorreg om alles te kan hoor, weeg baie meer op as die ongemak om te erken dat jy ‘n gehoor apparaat dra. Vir persoonlike, professionele diens, hoef jy nie Rand toe te ry nie. Ons is bevoorreg om ‘n begaafde audioloog in ons midde te hê, wat met toewyding en ervaring elke kliënt op sy/haar gemak stel. Ek het nie genoeg woorde om my dankbaarheid te bewoord nie. Ek is bevoorreg om een van Agneta se pasiënte te wees. Mag sy geseën en gespaar word vir die vreugde wat sy vir talle ander bring.

Johannesburg

Contact Number

Email Address

Vereeniging

Contact Number

Email Address

Back To Top